Geraldine Groenewald

Ek het groot geword in Pretoria. My ma en biologiese pa is geskei toe ek nog baie klein was en my biologiese pa het kort daarna selfmoord gepleeg. My ma het my alleen groot gemaak tot sy my ‘stiefpa’ ontmoet het, ‘n liewe mens wat ek “Pappa” noem en wat in elke sin van die woord my Pappa is.

 

Ek het aansoek gedoen vir ‘n ROF lening/beurs omdat my ma nooit finansieel kon voorsiening maak vir my studies nie (aangesien sy vir so lank basies ‘n enkel-ouer was). Ek het geweet ek wou bitter graag gaan studeer om my roeping te vervul en ek moes pro-aktief raak en soek vir geleenthede. Gelukkig het ek op ROF afgekom…

My ma, pa, boetie (tans in Gr11) en Mammie (ouma) woon tans in Rietfontein en is van die heel belangrikste mense in my lewe. Ons is ‘n baie hegte gesin en hulle ondersteun my 100%. Hulle woon al die skoolfunksies by waarvan ek deel is en hulle is werklik net sterre.

Ek is ook intussen getroud! Op 4 Julie 2015 het ek Mevrou Geraldine Dold geword en my liewe man, Sheldon Dold, is regtig ‘n engel. Hy is my grootste steunpilaar en wat hy alles vir my doen is ongelooflik…dit is die tipe man wat mens sou dink bestaan net in sprokiesverhale.

Ek is steeds by Hoërskool Tuine en ek bied steeds Lewenswetenskappe en Fisiese Wetenskap aan vir Gr10-12 leerders. Ek het verlede jaar al die Gr12’s gehad en baie goeie uitslae behaal.

Ek is ons Kultuurhoof en oorsien al die kulturele aktiwiteite wat by die skool gebeur. Ek organiseer ons jaarlikse Mnr en Mej Tuine, help by die prysuitdeling, ek is die Junior Stadsraad van Pretoria verteenwoordigers van ons skool se voog. Ek is een van die skool se VLR voogde en ek is tans die Graad 9 groep se graadvoog. Ek het ook verlede jaar begin leer hoe die skoolrooster werk en is verantwoordelik vir die opstel van die skoolrooster en vakveranderings van Gr10 en Gr11 leerders. Ek het ook pas ‘n bemarkingskursus voltooi wat oor 2 jaar in 8 modules aangebied is om by te dra tot die skool se bemarking.

Verder is ek steeds lief vir wat ek doen. Baie passievol oor die onderwys en nie een dag spyt oor my beroepskeuse nie. Ek is baie dankbaar vir ROF en sy donateurs wat dit vir my moontlik gemaak het om elke dag leerders se harte aan te raak en ‘n positiewe verskil in hulle lewens te maak.

Danielle Heyn

Ek is Danielle Heyn en ek is 24 jaar oud. Ek is die jongste van 2 kinders.  Ek het in Okiep, Namakwaland groot geword.
In my kinderjare het ek altyd gedroom om n veearts te word, aangesien ek permanent diere bymekaar gemaak het.

N mens se drome werk nie altyd uit volgens plan nie.  En myne het glad ñ snaakse draai gemaak, maar vir eers daar gelaat!  Ek het 2009 by Okiep Hoërskool matrikuleer.  Daarna het ek n jaar by die huis deurgebring ( weens die feit dat ek in my matriek jaar swanger geword het en vir die jaar ook omgesien het na my kindjie). Gedurende hierdie jaar (2010) het ek gewik en weeg oor die rigting waarin ek moet studeer.  Ek sou aanvanklik 2010 ñ Chef kursus by Northlink voltooi, maar het n paar dae voor my vertrek na Kaapstad daarteen besluit.

Ek het na n redelik tyd besluit om onderwys te studeer en het nog nie my besluit berou nie.  Ek het my vier jaar van studies aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie voltooi (2011-2014).  Gedurende die jaar 2012 het my ouer suster ook in Kaapstad by my aangesluit om haar as onderwyseres te bemagtig. Die finansiële druk het te groot vir my ouers geword, aangesien beide van ons op n hostel moes bly. Ek is later deur ñ student in my klas benader en het so te hore gekom van ROF. Ek het dadelik aansoek gedoen en binne ñ oogwink was ek ook deel van die ROF-familie. Die finansiële las wat op my ouers se skouers gerus het, was danksy ROF, verlig.

Ek het in Afrikaans en Besigheidstudies gespesialiseer. Die dag toe ek my uitslae sien, was dit n groot verligting en ek kon toe aan die wêreld uitbasuin dat ek, ñ plattelandse meisie, ñ gekwalifiseerde onderwyseres is ( aangesien baie meisies wat swanger word glo dat hul toekoms vernietig is. Ek het my geleentheid met beide hande vasgegryp). 

My soektog na ñ geskikte werk het begin en met baie terugslae het ek die perfekte werksgeleentheid gekry.  Ek is tans n onderwyseres by Kharkams Hoërskool, in die Noord -Kaap Provinsie. Ek was in 2015 verantwoordelik vir graad 8 en 9 Afrikaans Huistaal en graad 7 Natuurwetenskap.  Ek is huidiglik verantwoordelik vir graad 8 en 9 Afrikaans Huistaal en graad 9 Geskiedenis. Kharkams se gemeenskap is baie arm en baie mense lewe van die hand na die mond.  Baie van my leerders gaan tuis by Kamieskroon Kinderhuis.  Hierdie Herberg bied n veilige hawe vir baie kinders en hulle kom van alle uithoeke van die Noord-Kaap en selfs die Wes-Kaap.  Elke leerder het sy/haar eie verhaal om te vertel. 

My eerste ontmoeting met hierdie leerders het vir my soos n nagmerrie gevoel!  Ek het gevoel ek het geen beheer oor my klas, maar na ons mekaar beter leer ken het, gaan dit stukke beter.  My leerders is baie openlik met my en ons handhaaf ñ goeie leerder-onderwyser verhouding.  Ek het sover in my onderwys loopbaan nog geen klagtes nie. 

Ons leerders neem ook jaarliks aan die WOW-spelkompetisie deel en van my graad 8 en 9’s het redelik ver in hierdie kompetisie gekom. Ek geniet my beroep en is van plan om my  te registreer om sielkunde te studeer.  Dit sal my meer bemagtig om kinders met hul probleme te help.

Die uitdagings wat ek ervaar is die feit dat bronne en leermateriaal baie skraps is in afgeleë dorpies. Biblioteke wat by die skool toeganklik is vir leerders is nie volledig toegerus nie, wat daartoe ly dat leerders nie genoegsame inligting vir take kan opsoek nie. Indien ek eendag daartoe instaat is sal ek graag ñ volledige biblioteek aan ñ agtergeblewe skool wil skenk. Ek sal graag ñ verskil in leerders se lewens wil maak in plaas van in die onderwys.Vir nou spits ek my daarop om deur lesse n verskil in leerders se lewens te maak.  Ek vat elke dag soos dit kom en sodoende vertrou ek op die Liewe Vader om alles wat ek wil doen en nóg sal wil doen vir my moontlik te maak.

Laastens wil ek vir rapport en my donateur bedank vir hul bystand en hulp vanaf 2012 tot 2014. Sonder die finansiële hulp en ondersteuning sou ek nie my droom ñ werklikheid kon maak nie.

Groete
Danielle Karsten (neé Heyn)

Marileze Brooks

‘n Bydrae aan die Rapport Onderwysfonds (ROF) is ‘n belegging in die onderwys. En niemand weet dit beter nie as Marelize Brooks, ’n Graad 6-onderwyseres aan die Laerskool Welgemoed in Bellville in die Wes-Kaap.

Benewens die leerareas Wiskunde, Afrikaans Eerste Addisionele Taal, Engels Eerste Addisionele Taal, EBW en Lewensoriëntering, is Marelize ook die skool se netbal-koördineerder, afrigter en LO-leerareahoof.
Soos baie ander jongmense, het Marelize nie op skool geweet wat sy eendag wou word nie. “My droom van lugwaardin is wreed aarde toe gepluk deur ‘n vliegtuigrit in my Graad 11-jaar,” vertel sy. “ Ek het ook besef dat ek tyd nodig het om die regte keuse van beroep te maak. Ek en my tweelingsussie, Maryke kon dit nie bekostig om my ouers se geld te mors indien ons die verkeerde kursus kies nie en het toe besluit om eers ‘n jaar te gaan werk, sodat ons ‘n beroepskeuse kon maak en terselftertyd geld kon spaar. “
Dit was net ‘n kwessie van tyd voor die onderwys-beroep homself kom aanbied het. “ My ouers was albei onderwysers en ek het besluit om hul voorbeeld te volg. Ek hou baie van kinders en wou my liefde vir sport ook uitleef deur sport-afrigting te gee. Maryke, het besluit om B.Rek te studeer.”
Uiteraard was albei dogters baie bekommerd oor die geldelike impak op hul ouers van twee dogters wat tegelykertyd universiteitstudies moes begin.
“Ons het geweet tersiêre studies is duur en dit was ‘n dubbele las vir ons ouers. Ek het toe aangebied om deur die pos te studeer, want ek het gevoel Maryke het “klastyd” nodig, aangesien haar kursus die moeiliker een was. My pa het egter geweier en het gesê hy sal ‘n plan maak. Ons het gelukkig ook gespaar in die jaar wat ons gewerk het, en kon al die deposito’s met ons spaargeld betaal.”

Hulle het gehoor van die Rapport Onderwysfonds wat leningsbeurse aan Afrikaanssprekende onderwysstudente beskikbaar stel. (In uitsonderlike gevalle word leningsbeurse ook in ander rigtings goedgekeur.) Die sussies het albei ‘n ROF-beurs ontvang.

“ Hierdie leningsbeurs leer jou ‘n waardevolle lewensles, naamlik dat harde werk beloon word (‘n persentasie van die lening word volgens ‘n glyskaal omgeskakel in ‘n beurs – as jy goeie punte behaal). Ek het vier jaar lank gestudeer en was in my tweede-, derde- en vierdejaar die Fakulteit Opvoedkunde se toppresteerder (Inter/Sen Fase). In my vierdejaar het ek die Dekaansmedalje ontvang as toppresteerder, en in 2010 die Rektor Toekenning vir Uitnemende Prestasie in Opvoedkunde, omdat ek met ‘n gemiddeld van 85%+ oor my vier jaar van studie geslaag het. Ek was ook in my tweede-, derde- en vierdejaar die Top Akademiese Presteerder in Nerina-koshuis,” sê Marelize.

Marelize reken dis aan ROF te danke dat sy haar passie vir sport op die netbalbaan kon uitleef, as speler sowel as afrigter. Sy het vir al vier jaar op universiteit vir Maties netbal gespeel. In haar tweedejaar is sy verkies tot die Maties Netbalkomitee en daarna was sy vir twee jaar voorsitter van Maties Netbal.

“ Ek sou nie op die akademiese terrein en sportveld kon deelneem en uitblink, as dit nie vir die finansiële ondersteuning van die beurs was nie.

“ As gevolg van al die blootstelling wat ek op universiteit gekry het, die verhoudinge wat ek opgebou het en die goeie uitslae wat ek behaal het, kon ek ‘n goeie CV opbou en was ek bevoorreg om ‘n pos te kry by Laerskool Welgemoed. Om met jong kinders te werk is my absolute passie! “

Marelize sê haar hart gaan uit na al die jong studente wat wil studeer, maar dalk as gevolg van finansiële tekortkominge nie hulle drome kan verwesenlik nie.
“Beurse soos die ROF-beurs maak die deur vir hierdie studente oop. Die ROF is egter baie afhanklik van skenkings, anders kan studente soos ek nie gehelp word nie. Die ROF ontvang jaarliks baie aansoeke maar kan nie naastenby in die behoefte voorsien nie. Daarom het hierdie projek individue nodig om hulle harte en hande oop te maak sodat toekomstige onderwysstudente – wat gekniehalter word deur finansiële beperkinge – ook gehelp kan word om uit te styg en ‘n verskil te kan maak aan ons onderwysstelsel. Ek laat almal met ‘n bekende stelling: Daar is twee soorte mense in die wêreld. Daar is dié wat sê: “Ek wil hê…” En dan is daar dié wat sê: “Ek wil gee.” Dié wat gee, ontvang die meeste. “

Kristoff Isaacs

Na 25 jaar in die onderwys, was Kristoff Isaacs se pa nie baie verbaas dat sy jongste seun in sy voetspore wou volg deur ook ‘n onderwyser te word nie. Hy het vir sy drie seuns van ‘n vroee ouderdom geleer dat sukses kom slegs deur harde werk en dat geen werk te nederig is nie. Al drie seuns het dus van `n baie jong ouderdom elke Sondag Rapport afgelewer. Met dié wyse lewenslesse het Kristoff as een van ROF se suksesstories uitgedraai.

Kristoff het gematrikuleer in Malmesbury en daarna met ‘n ROF-leniningsbeurs sy studies aan Wellington CPUT voltooi. Ná voltooiing, het hy sy onderwysloopbaan in 2010 begin by Chatsworth Primêre Skool.

“Na ses jaar in die onderwys is ek nog steeds werksaam by Chatsworth Primêre Skool, `n landelike skool met sowat 450 leerders net buite Malmesbury. Daar is elke dag nuwe uitdagings – `n oorvol klas, te min apparaat, slange op die skool perseel en `n sanderige sportveld en nog baie meer. 
Dit is egter die tipe uitdagings wat jou sekere dae laat lag, inspireer, huil en selfs frustreer. Sommige dae probeer jy die wêreld verander en sommige dae probeer jy net deur die dag te kom. Maar dit alles, is die moeite werd wanneer jy die leerders iets nuut leer en `n glimlag op hul gesigte sien.
 
Tans onderrig ek gr.5- tot gr.7 Wiskunde en Natuurwetenskappe met klasse groter as 50 leerders. Ek is ook verantwoordelik vir die skool se biblioteek en is die sport koördineerder op die skool en rig tans rugby, atletiek, skaak en baie suksesvolle sokkerspan af. Wanneer daar `n wedstryd moet gespeel word moet ek en van die leerlinge, soggens eers die bane gaan kalk – voor dit weg waai in die sanderige oppervlakte.

Buite die skool is ek nog steeds `n Rapport afleweraar, Malmebury Tennisklub speler en bestuurslid asook `n Jeugleier in die plaaslike VGK kerk in Malmesbury.”

Kristoff het in 2014 ‘n toekenning van die Departement van Onderwys ontvang omdat hy die enigste van die ROF Prestige Toekenning kandidate – verbonde aan die Wes-Kaap Onderwysdepartement (WKOD) was asook vir uitstaande verbetering in die skool se uitslae tydens sistemiese toetse.

As `n ontvanger van die ROF Prestige Toekenning in 2014 kan ek met waardering uitspreek dat dit `n lewensveranderende ervaring was. Die kennis wat ek opgedoen het, kan ek nog steeds daagliks in die klaskamer toepas.  Dit het my wyse waarop ek onderrig radikaal verander.  Een van die tegnieke wat ek geleer het, was om Wiskunde meer visueel te maak en om klem te lê op die wêreld daar buite en dit binne na die klaskamer toe te bring – dit moet dus in konteks geplaas word.   Ons land het `n te kort aan Wiskunde en Wetenskap studente- daarom is dit belangrik om leerders se belangstelling in Wiskunde te kweek deur effektiewe onderrig metodes. Dit sal hulle aanmoedig om Wiskunde en Wetenskap te neem as `n vak, want veral Wiskunde word gesien as `n moeilike vak.

 Gegewe die sosio-ekonomiese agtergrond van die agtergeblewe gemeenskap waar ek werk maak die kind vroeg kennis met die ‘lelike’ dit is dus my taak om liefde en begrip na my leerlinge oor te dra.  Omdat ouers nie meer so `n groot rol speel nie. Is dit belangrik dat ek besef as opvoeder staan ek in plek van die ouer ook en daarom  moet ek nie die kind se selfbeeld afbreek deur negatiewiteit nie.  Met behulp van die kursus wat ek in Utrecht bygewoon het, kon ek `n positiewe bydrae maak in baie leerders se lewens. Ek kon by opvoeders van verskillende lande tegnieke leer en my kollegas by die skool kon ek aanspoor om nuwe tegnieke te gebruik in die klaskamer.

 Ten spyte van die baie tekortkominge in die Chatsworth gemeenskap en skool is dit vir my `n aansporing om `n verskil te maak in elke leerder se lewe deur `n goeie voorbeeld te stel, hulle te motiveer en te inspireer.”

Liezel van Niekerk

“Ek onthou nog my eerste antwoord op die vraag “So, wat wil jy eendag word Liezel?” Ek was ses jaar oud, ‘n trotse haasbekkie met twee hoë poniesterte, en strikkies in die hare. “’n Juffrou” het ek vlytig geantwoord, daar was geen twyfel nie!

Regdeur my skooljare was ek altyd ‘n akademiese presteerder, wat ‘n beroepskeuse vir my soveel moeiliker gemaak het, aangesien daar so baie moontlikhede was. ‘n Aanleg-, persoonlikheid- en belangstellingstoets het egter getoon dat ek baie meer bevrediging sal vind in ‘n loopbaan waar ek met kinders werk, soos opvoedkundige sielkunde.
Ek het by ‘n familielid se kleuterskool begin werk as onderwyseres en binne ‘n kort tydjie het ek geweet ek sou nooit weer terugkyk nie.
Tydens 2006 het ek my studies in BA Gesondheidswetenskappe en Sosiale dienste begin, met my hoofvakke Sielkunde, Opvoedkunde en Kriminologie. Tydens 2009 voltooi ek my graad met lof. Tydens 2010 verwerf ek my nagraadse onderwyssertifikaat (kleinkindontwikkeling en grondslagfase) ook met lof aan UNISA. Tydens 2011 begin ek my Honneurs BEd studies aan UNISA en word ek gekeur om tydens 2012 in opvoedkundige sielkunde te spesialiseer.
Regdeur al hierdie jare was ROF aan my sy, en het hulle my elke jaar getrou finansieël bygestaan met my studies, wat andersins geensins moontlik sou gewees het nie! Daar is nie woorde vir die dankbaarheid wat ek en my familie teenoor julle voel nie!
Tans werk ek as Gr.R onderwyseres by ‘n laerskool in Pretoria, en ek geniet my werk terdeë! Ek beoog om hierdie jaar my honneurs in opvoedkundige sielkunde te voltooi en volgende jaar met my meestersgraad in opvoedkundige sielkunde te begin.
Dit laat ‘n mens net dink, kyk net hoe reg was die sesjarige dogtertjie met haar antwoord!

Samantha Fredericks

Elke kind het liefde en belangstelling nodig – aandag en omgee. Die wete dat hy spesiaal is en geregtig is op ‘n kans om “ ’n lig in sy oë” te kry.
Samantha Fredericks (25), aspirant-juffrou en opvoeder, straal as sy oor “haar” kinders gesels. Daar is niks lekkerder as klasgee nie, sê sy. Om te sien hoe ‘n kind soms soggens moeg en doelloos ‘n klas binnestap en haar teen huistoegaantyd borrelend groet.

“Ek wil niks anders wees nie. Om ‘n onderwyser te word, is my lewensdoel. Dis die roeping waarvoor ek hier op aarde is.”
Nie dat dié loopbaan altyd ‘n voor die hand liggende opsie was nie.
Want haar pad tot hier, in haar derde jaar as onderwysstudent, was nie altyd rooskleurig nie.
“Geld”, erken sy, was altyd ‘n struikelblok in haar pad om haar droom te verwesenlik.
“Ek het van kleins af ‘n passie vir die onderwys gehad. Maar dit was ‘n droom wat ek weens my huisomstandighede nie maklik sou kon bereik nie.”
Na skool moes sy uitspring om geld te verdien om haar ma by te staan.
“Ek het gevat wat ek kon – daarom dat ek eers in ‘n fabriek en daarna in twee kettingwinkels as kassier gewerk het. Tog is dit daar dat ek besef het ek is mal daaroor om met mense te werk. Ek het van my laerskooldae af gedink die beroepe wat ek graag sou wou volg, is joernalistiek, maatskaplike werk of die onderwys. Maar diep in my hart het ek egter altyd geweet ek sal op my gelukkigste tussen kinders wees.”
Dis agter die kasregister, dat ‘n klant – toevallig ‘n skoolhoof – eendag aanbeveel het sy doen aansoek om ‘n pos as onderwys-assistent . “Hy het geweet van my groot liefde vir die onderwys en het my vertel van poste as onderwys-assistente wat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sou adverteer .”
Haar aansoek het geslaag, en dis in 2006, in ‘n klaskamer, dat Samantha onmiddellik ontdek het: “Dis wat ek my hele lewe wil doen!”
Na drie jaar het sy egter ook besef haar onderwysloopbaan durf nie by “klashulp” eindig nie. “Ek het geweet ek kan beter, méér. Ek het gehoor van onderwysbeurse… want geld was mos maar altyd die probleem.”
Uiteindelik moes sy in haar eerste en tweede jaar met ‘n lening tevrede wees. “My ma het groot persoonlike opofferings gemaak om geld te gaan leen sodat ek verder by die KPUT kon studeer. Sy het swaar gekry ter wille van my. Maar elke dag in die lesingsaal was ‘n voorreg. Ek het gou geleer niks is vanselfsprekend nie.”
Samantha erken haar gebrekkige finansies het haar situasie soms onmoontlik gemaak. “Weet jy hoe dit gevoel het as ek nie my uitslae aan die einde van die jaar kon kry nie, omdat my klasgeld nie betaal is nie? Met skuld agter my naam sou ek ook nie vir nog ‘n studiejaar kon registreer nie. Klasgeld en boekegeld was altyd ‘n kwessie, maar ek moet erken ons hele gesin het alles altyd baie volwasse hanteer. Hulle het my altyd in my drome ondersteun. Hulle het saam met my help deurdruk om te slaag en moed te hou.”
Begin vanjaar (2012) het sy aansoek om studiehulp by die Rapport-Onderwysfonds gedoen. Die groen lig vir ‘n bydrae daaruit was “soos manna uit die hemel. Skielik het my erge kommer oor geld soos mis voor die son verdwyn. Ek kon nou nét aandag aan my studie gee en die gedurige gedagtes aan geld ‘n bietjie wegskuif. Nou spaar ek vir my eie skootrekenaar, want dis ‘n gesukkel as ek take moet inlewer.”
Toe sy onlangs voor haar proefonderwysklas staan, het sy geweet “dis wat ek die res van my lewe wil doen. ‘n Kind raak soggens deel van jou lewe, en aan die einde van daardie dag sien jy die vordering. As ek elke dag maar net op één kind ‘n onuitwisbare indruk kan maak, het ek my doel bereik.
“Ek sien baie kinders wat groot struikelblokke in die lewe moet oorkom. As ek so ‘n kind kan help, al is dit net om hom ‘n drukkie te gee, weet ek ek het iets beteken. Ek glo aan ‘n sagte aanslag, deernis, empatie… ‘n skouerkloppie. Ek glo kinders moet nuwe dinge op ‘n prettige, interessante manier leer. Dis wat maak dat hul gesiggies verhelder… en dis wat my saans, na skool of lesings, met groter begrip, motivering en liefde na my eie huisgesin terugstuur.”

Ruann Swart

Waar om te begin…. hoe om ‘n lewe op te som in ‘n kort storie?

‘n Mens hoor gereeld hoe mense terugverwys na hoe lekker hul universiteits lewe was of hoe graag hul weer wil jonk wees. Dis seker waar wat hulle sê maar daar is tog ‘n verskil vir ‘n onderwyser, die lewe word eers werklik lekker as jy in jou eie klas instap en jy lewe nie net meer vir jouself nie maar jy lewe om ‘n verskil te maak in elke kind wat voor jou inkom se lewe.

Ek werk tans by Vereeniging Gimnasium, in Vereeniging, as die graad 8 en 9 Sosiale Wetenskap onderwyser. Dit beteken nie werklik iets nie, as ‘n onderwyser moet jy maar buigbaar wees en by die diepkant inspring en ‘n vak gee wat jy dalk nie voor studuur het nie. Wat anders is die lewe indien dit nie vol verrassings is nie? Ek rig ook seuns hokkie af, waarvan 11 van my spelers die jaar Bokkie-Week toe genooi is ,een seun beste in posisie SA span behaal het en 3 seuns vir Suid-Gauteng IPT gespeel het . Ek is ook die skool se hokkie-hoof en dien op die disiplinêre komitee as aanklaer.

My prestasies gaan jou dalk nie oortuig om vir ‘n onderwyser te studuur nie maar dit is nie die punt nie. Ek wil vir jou wys ‘n onderwyser kan homself/haarself uitleef in jou vak/sport/skool. Jy het die potensiaal om soveel mense te help en jouself nog te geniet.

In 2008 was ek nog jonk en rusteloos; ‘n tiener het mos geen remme nie. Ek het nog altyd ‘n passie gehad om mense te help en is nie bang vir ‘n uitdaging nie. My ouers het ongelukkig nie die fondse gehad om my uit hulle eie sak deur universiteit te sit nie en ek moes vreesbevange hoop vir ‘n beurs of lening. Ek het toe aansoek gedoen by die Rapport Onderwysfonds en spoedig terugvoering gekry dat ek aanvaar was. Dit was ‘n uiterse verligting vir my en my ouers.

Dit klink alles dalk soos ‘n sprokiesverhaal maar harde werk word tog beloon. Danksy die Rapport Onderwysfonds het ek my eerste graad voltooi, B.Ed Senior en VOO (Wiskunde en Engels), wat gelei het dat ek ‘n goeie werk kry en ‘n uitnodiging van die Golden Key ontvang het. Daardie werk het my gehelp om my Hons B.Ed in bestuur en wetgewing te voltooi, waarvan net 3 van ons die wetgewing afdeling voltooi het. Alles was moontlik gemaak deur die Rapport Onderwysfonds.

Jy gaan gevra word watter verskil wil jy maak in die onderwys vorentoe? Daardie vraag is ontmoontlik om as onderwyser te beantwoord. Jy wil die wêreld ‘n beter plek maak, jy wil dalk kinders help in moeilike omstandighede of dalk die volgende sportster ontdek. Vergeet wat jy wil doen of droom om te doen!  As ‘n onderwyser gaan jy soveel meer as daardie paar goed doen… jy gaan iemand laat glimlag, jy gaan kinders help, jy gaan ‘n kind lief maak vir sport of kultuur en jy gaan ‘n beter mens word.

Geniet die lewe en word ‘n onderwyser…

Jevonn Cloete

Jevonn Cloete, was in 2015 ’n wenner van die ROF Prestige Toekennings.  Hy was op  daardie stadium  ‘n 4de jaar onderwysstudent aan  die Universiteit van Stellenbosch was.

 Ek is een van vyf kinders met geskeide ouers, ‘n werklose ma en ‘n relatiewe afwesige pa (hy is ‘n “taxidriver) en is afkomstig  van die Noord-Kaap. Ek het drie broers (een ouer en twee jonger) en ‘n klein sussie. Oor ‘n breë mate het ek arm en eenvoudig groot geword, maar die beste pogings is deur my ouers aangewend om gemotiveerd te bly- vandag is ek steeds dankbaar daaroor. Uit die familie-stam is ek die eerste een om aan ‘n universiteit te studeer en my loopbaan met ‘n graadkwalifikasie te begin. “ 

“ ʼn Terugblik na sowat tien jaar gelede, sou ek nooit kon dink dat ek ʼn graduandus aan die Universiteit Stellenbosch sou wees nie. ʼn Droom om meer te doen as die buurman en buurvrou sonder geleerdheid van waar ek kom, was in sig. Onder die goue vlerke van ‘n gesin op Kamieskroon het hierdie droom begin realiseer. Met die beste vorm van nederigheid het hierdie twee mense my uit die stof van agtergeblewe Rooifontein geneem en motiveer om ‘n toekomsdroom te begin uitleef.

Terwyl hy in 2015 besig was met sy 4de jaar B.Ed-studies, het hy alreeds begin terugploeg in die gemeenskap: “Ek was die geleentheid toegestaan om saam met Dr Michael Le Cordeur, in samewerking met die Suid-Afikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ‘n kort Wiskunde-werkswinkel aan 40 graad 7-leerders te bied wat onderskeidelik die beste 40 kandidate was in die Wes-Kaap vir die Wiskunde-in-Aksie Olimpiade. Hier het ek die kinders bewus gemaak op vinnige metodes en gebruike om hoofrekening in wiskunde-klasse te doen asook die wyses waarop ons kyk na die logika in vraagstelling van Wiskunde-probleme. Die sessie het ook gefokus op benaderings wat in Olimpiades gebruik kan word om beter resultate daaruit te put. In hierdie werkswinkel het ek ook met die onderwysers gepraat oor die uitdagings in Wiskunde-onderrig tans in ons stelsel en verduidelik wat die oortuigings is wat die Nederlanders gebruik om hulle uitslae te verbeter.

Ek het ook met die kennis wat ek in die Somerskool aangeleer het, onderrig- en leermateriaal ontwerp wat ek dan gebruik in my onderrigstyl. Dit is absoluut wonderlik om hierdie verryking van die somerskool hier te kom toepas!  Bv.  dat die Suid-Afrikaanse stelsel gebruik ‘n “Top-Down” benadering in die wyse waarop ons ons kinders Wiskunde leer, waar Nederlanders gebruik maak van ‘n Bottom-Up” benadering. Die Top-Down benadering onderneem om, wanneer die aanwesige onderwyser in die klaskamer ‘n onderwerp behandel, is ons geneig om dit aan leerders oor te dra op ‘n wyse waarin hulle geensins iets van daardie onderwerp self moet kan ontdek nie. Ons gee hulle die stap-vir-stap verduidelikings vir alles wat nodig is om berekeninge en probleemoplossing te doen en laat hulle nie toe om self te dink oor wat die Wiskunde vir hulle beteken nie. 

In Holland maak die Wiskunde-spesialiste gebruik van ‘n benadering waarbinne hulle die leerders op ‘n pad neem met die onderwerpe, tesame met vraagstellings daarvan asook die relevantheid van onderwerpe in Wiskunde in die werklikheid daarbuite. Op hierdie wyse identifiseer leerders makliker met die inhoud van Wiskunde en weet hulle PRESIES wat dit vir hulle beteken. Dit maak dan ook natuurlik vir hulle sin hoekom hulle dit moet doen. 

Hierdie denkwyse het my geleer om anders oor onderwerpe in Wiskunde te dink, veral wanneer ek materiaa voorberei vir die klaskamer. Dit het my geleer om refleksief met inhoud in Wiskunde om te gaan en leerders fisies te betrek by dit wat ek wil he hulle moet bereik. Partykeer is dit baie verbasend hoe dat hulle jou self iets kan leer vir die wyse waarop ons oor Wiskunde moet dink. 

Ek beplan om hierdie tipe wiskunde-onderrig  in my toekomstige klaskamers te vestig. Ons is dit verskuldig aan die kinders daar buite. En ek weier volstrek om enigsins terug te val in ‘n ‘top-down approach’, soos wat ons meeste onderwysers daaraan gewoond is in die meeste skole in die land. ‘n ‘Bottom-Up’ benadering is waarvoor ons moet streef.  Die kinders van Hendrik Louw Laerskool, Stellenbosch was die eerste groep wat my selfontwerpte leermateriaal beproef het. Hulle kon nie glo hoeveel Wiskunde (veral patrone en die voortsetting daarvan ) in een speletjie ingevoer kan word nie.” Jevonne slaag einde 2015 sy B.Ed graad CUM LAUDE.

Hy is vanjaar by die Universiteit Stellenbosch ingeskryf vir B.Ed Hon  waarin hy, as deel van sy kursus, werk aan ‘n NRF Wiskunde-projek saam met Dr. Erna Lampen, dosent aan die US se Opvoedkunde Fakulteit. Hierdie projek word geloods by Hoërskool Cloetesville in Stellenbosch, waarin ‘n groep graad 8-leerders op Saterdae voorgestel word aan strategieë, denkpatrone en probleemoplossing in die  raamwerk van die Wiskunde-kurrikulum. Daar sal in 2017 voortgegaan word met hierdie groep, met die doel dat hulle Wiskunde as vak in graad 10 neem. Die primêre doel van die projek is om aan hierdie leerders ‘n spesifieke Wiskunde-identiteit en individuele agentskap te gee, waarin hulle ‘n platform ontwikkel om wiskundige konsepte te bevraagteken, woordgebruik te beoordeel en beter insig te kry rakende die vooruitsig van Wiskunde.

Dié jong student maak gereeld gebruik van die materiaal wat hulle by die somerskool in Utrecht ontvang en ontwikkel het. “Die ryk bronne van materiaal waarmee ons deur die dosente by die somerskool  mee verryk is, saam met die hulp van Dr. Lampen, kom handig te pas wanneer ons werk aan die doel van hierdie projek”, meen Jevonn.

Hy sien die ondersteuning van ROF en die Prestige Toekenning nie net as ‘n verryking van sy eie lewe nie, maar ‘n geleentheid om kennis en vaardighede na die tyd terug te ploeg in ons onderwysstelsel.  “Die ervaring wat jy kan gebruik om terug te ploeg aan ander, die diens wat jy lewer deur te motiveer en die bydrae wat jou verryking aan ander kan lewer, is die verskil wat hierdie program in my lewe sal beteken. Dit gaan ten einde nie oor wat ek het of besit of al bereik het nie, maar eerder dit wat ek gaan gebruik om ander deur inspirasie te verhef. Niemand het nog ooit armer geword deur te gee en te verhef nie!”

Vanjaar is Jevonn deur die US genomineer vir ‘n  Somerskool in Berlyn, Duitsland:”Ek het as nagraadse student aansoek gedoen om deur die Nagraadse Internasionale Kantoor ‘n Somerskool te doen. Die aansoek was suksesvol, met onder andere verskeidenheid van kriteria waaronder dit gebuig gegaan het: Onderhoude, Video-werk, Akademiese geskiedenis ensovoorts. Ek het ook toe nie gedink ek sal die geleentheid kry nie, omdat so verskriklik baie van ons studente aansoek gedoen het. Ek het ‘n oproep van die kantoor ontvang wat dui dat my aansoek suksesvol was. Ek was in EKSTASE!! 

By die Humboldt Universiteit het ek ‘n kursus gedoen getiteld “Global Cities as Centres of Knowledge Production” waarin ons as ‘n globale poel studente die finansiele, politieke, opvoedkundige en sosiale faktore ondersoek het wat bydra tot die vorming van ‘n kennisstad. Daar was ook gesprekke gevoer rondom die aard van stede, hul eienskappe, uitdagings, positiewe karaktertrekke en identiteit van inwoners van stede. 

Hier het ek baie geleer en opnuut besef dat elkeen van ons in verskeie dissiplines meer as net die werk moet doen waarin ons staan, maar ons kennis moet versprei na ander velde waarin ons invloede ook het. Op hierdie wyse vorm ons interverweefde verbande wat die sosiale kohesie van gemeenskappe versterk!  

Le-Roy Robertson

Ek kom van Keimoes  – ‘n klein dorpie duskant Upington, op die oewers van die magtige Oranjerivier. Daar waar almal mekaar ken en genoem word Die “tikkie Boland van die Kalahari”.

 Ek is deel van ‘n hegte huisgesin waarvan ek die oudste is, ‘n jonger broer wat tans Natuurbewaring studeer by NMMU se pragtige George kampus en ‘n matrikulant-suster wat volgende jaar oppad is na die Universiteit Stellenbosch. Albei my ouers, en ‘n groot deel van my breër familie, is of was, in die onderwys.  Dis juis waarom ek self onderwys wou studeer.

Ek het 2010 begin studeer by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie se Wellington kampus. Hoekom? Wel, behalwe die pragtige natuurskoon van die Boland, was die groot trekpleister dat ek in Afrikaans my B.Ed-graad kon voltooi. Goeie dosente, kleiner klasse en ‘n gevoel dat jy nie net ‘n “nommer” is nie, het dit vir my redelik maklik gemaak om te kon studeer. My hoofvakke wat ek gekies het was Biologie en Menslike-en Bewegingskunde. Ek het my graad voltooi in 2013 en my gradeplegtigheid was in April 2014, teen die hange van Tafelberg, by KPUT se Kaapstad kampus. Trotse dag!

Januarie 2014 het ek  begin onderwys gee by my alma mater Hoërskool Keimoes. Dit was ‘n groot eer om te kon terugploeg by die skool en dorp waar ek grootgeword het. Waardevolle kennis en vaardighede wat ek daar kon leer, totdat ek my vlerke gesprei het vanjaar – terug na die Wes-Kaap by Jan Kriel Skool, Kuilsrivier.  Vandag is ek deel van die beste skool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes in die land. Ek onderrig Lewenswetenskappe graad 12 en 11, Natuurwetenskappe graad 7, Sosiale Wetenskappe graad 8 en Lewensoriëntering (prakties) graad 10. Ek gee klas vir leerders wat disleksies is, ADHD, leerders met gehoor-en sigprobleme, asook leerders op die Autistiese spektrum, om net ‘n paar van die behoeftes van die leerders te noem. Behalwe bogenoemde, het leerders, soos duisende ander in die land, ook elk ‘n unieke behoeftes. Ek leer elke dag van alternatiewe assesseringmetodes en die toepassing daarvan, veral met die voltooiing van formele werkstukke en eksamens. Verder geniet ek dit om met die leerders te kan werk op die rugby-en krieketveld, waar ‘n ou die leerders op ‘n meer gemaklike platform leer ken en wat belangrik is vir die holistiese ontwikkeling van elke kind.

Weens my ervaring by Jan Kriel Skool, is my groot vraagstuk, hoekom nie meer sulke skole is nie en waarom word daar so min onderwysers opgelei in alternatiewe assessering. Ek sal graag my kennis wil deel met onderwysers in die hoofstroom, veral op die platteland, want dis waar daar groot getalle leerders nie gediagnoseer kan word nie en wie ook spesiale onderwys verlang. Dis hier waar ons kinders op klein dorpies  verloor en agter raak, teenoor leerders in die groter metro’s – veral in terme van geleenthede

Ek wil graag my Honneurs voltooi in Opvoedkundige Sielkunde en sal met my ervaring by Jan Kriel Skool wil gaan na die Noord-Kaap en vaardighede gaan deel met kollegas op dorpe soos Kenhardt, Groblershoop, Louisvale; by klein skole op gemeenskappe soos Bloemsmond en Blaauwskop, om net ‘n paar te noem. Dis hier waar die nood knyp.

Tydens my derdejaar van studie het ROF my benader en aangebied dat hulle my wil help met my studies. Dit het my gehelp om die potensiaal in myself te kan sien, nie net finansieel nie. As ander mense mos in jou glo dan waaroor twyfel jy dan in jouself? Ek het baie planne vir my toekoms en baie wat ek wil bereik. En dit word makliker gemaak deur mense en organisasies soos ROF.

Ek is gebore op 16 Junie 1988 in Nababeep, ‘n klein dorpie in Namakwaland.  Ek is die oudste van drie kinders (het ‘n jonger suster en broer).  My ouers besit ‘n klein besigheid wat hulle van die huis af bedryf.  Hier kruideniersware winkel is ons enigste bron van inkomste en my ouers prober hul bes met die bestuur van sake sodat hulle vir ons kan sorg.

Ek is gebore op 16 Junie 1988 in Nababeep, ‘n klein dorpie in Namakwaland.  Ek is die oudste van drie kinders (het ‘n jonger suster en broer).  My ouers besit ‘n klein besigheid wat hulle van die huis af bedryf.  Hier kruideniersware winkel is ons enigste bron van inkomste en my ouers prober hul bes met die bestuur van sake sodat hulle vir ons kan sorg. Met die huidige ekonomiese klimaat en ook die groot werkloosheid syfer op ons dorp is dit egter nie altyd maklik nie.

As kind het ek groot belangstelling gehad in drama en musiek.  Die verhoog was vir my ‘n tuiste. As ek kon sing, dans en opvoer was ek dood gelukkig.  Dis later in my tienerjare wat ek ‘n groot belangstelling en ook ‘n liefde vir taal ontwikkel het.  My inspirasie op die gebied was dr G.Kotze. Hy was op die stadium my skoolhoof en ons Engelse onderwyser.  ‘n Absolute genie wat my gemotiveer het om te groei en ontwikkel in tale.  Sy kennis het ook ‘n brandende beggerte in my wakker gemaak om meer te leer in tale en die kennis wat ek verwerk te deel. Ek het toe besef ek wil onderrig en veral liefde by leerders kweek vir die kunste en taal.

My hoofvakke is Afrikaans, Musiek en Xhosa.  Ek het tot in my tweede jaar Drama en Engels ook as vakke gehad.  Afrikaans bly vir my ‘n pragtige taal met verskillende varieteite wat almal akkommodeer . Musiek verbind ons oor alle grense. Musiek maak ons een. Musiek maak ons heel. Xhosa is ‘n  gevoelstaal waarin mens jou lekker kan uitdruk.  Dis energie van die Xhosa-sprekendes en ook die liefde waarmee hulle hulle taal praat wat my aantrek.

Wat die akademie betref het ek in 2013,2014 en 2015 ‘n gemiddelde persentasie van bo 75% handhaaf.  Ek is gevolglik aangewys as ‘n Academic Giant.  Aan die begin van hiedie jaar is ek gekies om aan ‘n uitruilprogram in België deel te neem.  My akademiese prestasie was as maatstaf gebruik.

Vir 2016 het ek tydens die April-proef by Hoërskool Namakwaland geproef en tydens die Julie/Augustus proef by Primêre Skool Springbok. Ek is die dirigent van die koor by Hoërskool Namakwaland en het hulp en ondersteuning aan PSS gebied waar ek kon.  Beide kore het aan die ATKV-Applous kompetisie deelgeneem en het ATKV-Goud verwerf.  Daarna het beide kore ook aan die Vrededal Eisteddfod deelgeneem en Cum Laude  verwerf daar.  Die twee kore in by altwee kompetisies die beste in onderskeidelik die Hoërskool en Laerskool afdeling.

Ek sal graag wil sien dat elke leerder ‘n regverdige kans sal kry.  Dat onderwysers alles moontlik sal doen om die behoeftes wat leerders ten opsige van die skool ervaar aan te spreek.  Ek sal graag wil hê dat elke leerder geliefd en waardevol sal voel.  Ek sou graag wou hê dat die skool vir elke leerder ‘n platvorm sal bied waar hulle kan groei, ontdek en ontwikkel.

ROF het dit vir my moontlik gemaak om my droom te realiser.  Te danke aan ROF kan ek volgende jaar begin help met die ontwikkeling en die vorming van leerders en hulle voorberei om volwaardige, verantwoordelike en eerbare landsburgers te wees wat hul plek in die samelewing kan volstaan.

My dankbaarheid ken geen grense. My leuse bly egter: Ora Et Labora, die leuse van my laerskool, Sacred Heart Primêr.

Ndiyabulela ukugcinwa nguThixo!!!

AANSOEKE VIR 2021
Open: 1 Julie 2020
Neem asseblief kennis dat aansoeke vir 2021 elektronies ingedien word.
Die inligting en aansoekprogram is by die onderstaande skakel beskikbaar
Skakel 065 367 3903 indien jy enige probleme ondervind.