Bankbesonderhede
Die Rapport Onderwysfonds Absa Takkode 632 005 Rekeningnommer: 405 864 6741
Auxilarry het grootgeword in Kliprand, ’n baie klein dorpie op die grens van die Noord- en Wes-Kaap waar daar nie baie geleenthede is nie en waar die werkloosheidsyfer baie hoog is. Sy is die oudste van twee kinders en haar enkelouer-ma moes hulle gesin finansieel deur die maande dra.
Sy ontvang vanaf haar eerste jaar in 2012 ’n ROF-leningsbeurs en begin haar B.Ed VOO-studies by CPUT. Tydens haar eerste jaar skenk sy geboorte aan ‘n pragtige seuntjie en in haar tweede jaar sterf haar oupa, wat ook ‘n groot finansiële rol vervul het. “Daar was baie dae wat ek gevoel het ek kan nie meer nie; dat ek wil opskop, maar ek het besef dit gaan nie meer net oor my nie – ek het ’n kind om aan te dink.”
Desondanks baie persoonlike en finansiële uitdagings slaag sy In 2015 haar graad cum laude.
Vandag is sy ’n trotse juffrou by Vredendal Sekondêre Skool (VSS) en onderrig Besigheidstudies en Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Sy is ook vakhoof vir Besigheidstudies en graadhoof vir die graad 9’s. Vir haar is haar grootste prestasie egter wanneer sy voormalige graad 12-leerders van haar Besigheidstudies-klas raakloop wat vandag in professionele beroepe staan.
“Onderwys is ’n roeping, dit kom uit die hart, en as jy nie ’n passie vir onderwys het nie, is dit verby. Soms voel dit of jou hart kan ontplof van dankbaarheid en trots as jy sien hoe ’n leerder se oë ophelder as hy of sy iets verstaan.
“ROF het my gehelp my om ’n verskil in my klas te maak – sonder hulle bystand sou ek nooit die binnekant van ’n klaskamer as opvoeder gesien het nie.”
Ek is ‘n Namakwalander uit Rooifontein, ‘n klein dorpie net buite Springbok, in die Noord-Kaap. Ek is die eerste uit my familie om universiteit toe te gaan. Ek sou nooit kon dink dat ek ‘n gradu“Toe die gogga van Spesiale Onderwys my byt, het ROF se leningsbeurs vir my geleentheid gebied om myself in hierdie spesialisveld te bemagtig. Nie net het hierdie leningsbeurs ‘n groot droom verwesenlik nie, maar dit het die skynlik onwerklike nader na my beroepsvoorstoep gebring. Vandag staan ek as leerondersteuningspesialis in ‘n klas vol spesiale leerders met intellektuele gestremdhede met ‘n hart vol tevredenheid en salige gemoedsrus vir die verskil wat ek kan maak. Dankie ROF- my beker loop oor!
Die 26-jarige Shameez Siljeeur is ‘n trotse onderwyseres by Rushof Skool, ‘n skool vir leerlinge met spesiale behoeftes in die Strand. Sy het grootgeword in ‘n bendegeteisterde buurt waar sy, haar suster, enkelma en ouma woon. Haar grootste begeerte was om hul omstandighede te verbeter asook om vir ander ‘n voorbeeld te wees hoe om die onmoontlike moontlik te maak. Met baie deursettingsvermoë en haar oë en hart gefokus om haar droom te realiseer, het sy ná skool haar studies begin by die Universiteit Wes-Kaapland (UWK). In haar eerste jaar het sy naweek en vakansies gewerk vir sakgeld. Danksy puik punte het sy ‘n beurs ontvang vanaf haar tweede jaar en kon sy haar B.Ed graad verwerf.
Toe sy ‘n pos gekry het by Rusthof Skool, het sy geweet dat dit vir haar bestem is om daar skool te gee. “Toe ek hier beland en met die baie spesiale kinders begin werk, het ek skielik besef: Dís waar ek moet wees.” Haar sterkpunt is geduld en meelewendheid en baie belangrike eienskappe in onderwysers wat by dié skool werk, sê sy.
Shameez se begeerte om haarself beter te bekwaam het die oorhand gekry en sy het begin rondkyk vir befondsing vir verdere studies. Danksy ROF is sy nou besig met haar B.Ed Honeurs en is sy vol vertroue dat sy die einde van die jaar met haar tweede graad in die hand gaan staan. Met ‘n skaam glimlag sê sy: “Ek gaan definitief nie ophou studeer nie. Ek wil nog vorentoe ‘n groot verskil in die onderwys maak.”
Ek is gebore in Welkom in die Vrystaat voordat ek met ’n lang draai in die Hoërskool Bellville geland het waar ek gematrikuleer het.
Ek was versot op skool – veral omdat elkeen van my onderwysers ons skoolleuse “Ons gee om” persoonlik uitgeleef het. Ek wou eenvoudig in die voetspore van juf. Burger, juf. Augustyn en juf. Meyer volg!
Ek het nie maklik grootgeword nie, maar hulle het my geleer dat jy self jou toekoms bepaal, nie die omstandighede waaruit jy kom nie. Ek is dus na skool na die Universiteit van Stellenbosch waar ek B.Sc met Lewenswetenskappe en Sielkunde studeer het met die ambisie om ’n wetenskap- en wiskunde-onderwyser te word. Om my huur en petrolgeld te betaal het ek saans ekstra klasse vir skoolkinders aangebied terwyl my pa en oupa lenings aangegaan het om my studiegelde te dek. Ons het dit nog nooit breed gehad nie, maar my familie het baie opofferings gemaak om die beste vir ons kinders te gee.
Met ’n leningsbeurs van die Rapport Onderwysfonds kon ek uiteindelik my NGOS-kwalifikasie met onderskeiding slaag, omdat die leningsbeurs dit vir my moontlik gemaak het om minder ure te werk sodat ek meer tyd voor die boeke kon spandeer. Dit is ‘n eer dat ‘n donateur en instansie in jou glo en bereid is om ‘n belegging in jou toekoms te maak!
Vandag is ek ‘n trotse onderwyser by my alma mater in Bellville waar ek natuurwetenskappe vir Gr.8 en Gr.9 gee en Lewensoriëntering vir Gr.11 en Gr.12.
Ek hoop om ‘n onderwyser te wees wat leerders opgewonde maak om skool toe te kom. Hulle is my kinders wat nie net hier is om boekekennis op te doen nie, maar ook iets van die lewe te leer – net soos ek talle lewenslesse by my onderwysers geleer het. Dit is ’n nalatenskap van onskatbare waarde wat oorgedra word van generasie na generasie deur onderwyser na onderwyser.
In 2020 begin WB by Aros, ‘n hoëronderwysinstelling in Pretoria, met sy B.Ed Intermediêre fase met Wiskunde as hoofvak.
Hy vertel: “Alhoewel ons altyd kos op die tafel en ‘n dak oor ons kop gehad het, weet ek tot vandag nie hoe dit voel om materiële oorvloed te hê nie. Maar daar was egter altyd absolute oorvloed van liefde, respek en gesinsharmonie in ons huis, wat ‘n wonderlike ondersteuningsbasis vir elke lid van die gesin was. Ek kon nie vra vir beter ouers nie.
“Aan die begin van my studiejare is my ouers is weens ‘n goeie beroepsgeleentheid na Durban verplaas en ek het agtergebly om my studies voort te sit. Dit het toe moeiliker begin gaan om alles te betaal. Ek moes werk deur die dag, sport afrig in die middae en Wiskunde klasse daarna aanbied om al my finansiële balle in die lug te hou. Ek het besef ek is besig om myself heeltemal uit te brand en dis juis op daardie tydstip wat ek In 2021 my eerste ROF-leningsbeurs ontvang! ROF en my ROF-donateur het werklikwaar tot my redding gekom op ‘n stadium wat ek nie veel langer sou kon voortgaan nie. Daarvoor is ek ontsettend dankbaar!
WB wil graag sy liefde vir Wiskunde oordra aan elke leerling wat eendag in sy klaskamer gaan sit. “Dit is fantasties om ‘n konsep op so ‘n manier te verduidelik dat ‘n kind dit skielik begryp. Daardie “wow”-oomblik laat ‘n passie vir Wiskunde ontwikkel wat hulle opgewonde maak en motiveer om nog beter te doen in hierdie vak. Om leerders wat sukkel te help, is my groot doelwit in onderwys.”
WB sluit sy 3de jaar van studies af met ‘n gemiddelde bo 80% en is vasbeslote om sy graad vanjaar suksesvol te voltooi. “ Ek kan met baie eerlikheid sê dat my droom om as rolspeler in leerders se lewe op tree, vertraag sou wees indien ROF en hul donateurs nie tot my redding gekom het nie. Danksy my ROF-donateur se finansiële ondersteuning kan ek my lewensdroom verwesenlik en volgende jaar begin terugploeg in die onderwys en jong skoolleerlinge se lewens!”