Suksesverhale


Divan Visser

“Ek het ‘n ROF-leningsbeurs gehad gedurende my NGOS-jaar in 2016.

My loopbaan in die onderwys het in 2017 begin as ‘n posvlak 1 departementele onderwyser by Laerskool M.L. Fick in Potchefstroom. In 2021 word ek aangestel as Departementshoof van Wiskunde en Wetenskap en einde 2022 is ek intern deur die beheerliggaam aangestel as waarnemende adjunkhoof.

In my loopbaan tot dusver dien ek op verskeie sportliggame sowel as distrik- en provinsiale sportafrigting. Ek wil met ‘n dankbare hart aan Rapport Onderwysfonds dankie sê vir hulle finansiële steun om my drome in die onderwys te verwesenlik. Ek droom steeds groot en my visie vir die onderwys is om inklusief skool te hou met ‘n strewe na uitnemendheid. Dit is vir my belangrik dat elke leerder sy/haar plek sal volstaan en tot sy/haar volle potensiaal kan ontwikkel.

Dankie vir die hulp wat ROF gee aan soveel jongmense in die onderwys. Vanjaar begin my sewende jaar en ek kyk nie een dag terug nie.

Nadine Pienaar

Ek het gematrikuleer in 2013 en in 2016 my B.Ed graad by Aros begin. Alhoewel my ouers gehelp het met die betaling van my studies, het ek ook 'n werkie gekry as 'n aupair en tutor by 'n familie wat baie naby aan Aros gewoon het. Alles het baie goed verloop die eerste jaar van my studies. Ek het regtig hard gewerk en goeie resultate gekry.

2017 was my tweede jaar by Aros - 'n bittersoet jaar. Ek het in April met die man van my drome getrou, maar in Mei-maand is my ma gediagnoseer met 'n lewensgevaarlike gewas in die stam van haar brein. Sy moes vir 'n hoë risiko operasie gegaan het om die gewas te verwyder en kon ongelukkig nie daarna verder werk nie, as gevolg van die skade wat die gewas veroorsaak het. Desondanks al die uitdagings, was sy op pad na herstel. Ek het weer ‘n huppel in my stap gehad - maar ongelukkig nie vir lank nie.

Die volgende maand (Junie 2017) word my pa ook gediagnoseer met kanker. Hy het nie medies gehad nie en dit was 'n lang proses om uit te vind wat werklik fout was met hom. In Julie het my pa gesterf. Ek en my pa was soos kettie en klip. My hart was absoluut in stukke.

Dit was 'n ongelooflike moeilike tyd vir my en my ma. Ons moes baie emosies en trauma verwerk het. Ek wou nie meer druk sit op my ma nie en het haar belowe dat sy nie hoef te bekommer oor my studies se finansies nie. Ek het vir dae lank die internet deursoek na instansies waar ek finansiële hulp kon kry vir my studies. Ek het afgekom op ROF en dadelik aansoek gedoen. Vanaf 2017 tot 2019 het ROF my bygestaan

My ma se gesondheid het deur die jare verbeter en sy was deurentyd my steunpilaar. In 2019 voltooi ek my studies en ontvang my B.Ed kwalifikasie en in 2020 begin ek werk as ‘n Graad 1-juffrou. Danksy my ROF-donateur wat vir my die geleentheid gegee het om wel my studies te voltooi, leef ek elke dag my passie uit!

Shaun Kuswayo

Ek is Shaun Kuswayo, ‘n gebore en getoë Namakwalander. Ek is die oudste van drie kinders en onthou my kinderjare as gelukkig en vreedsaam.

Ek het al vroeg in my lewe besef dat onderwys my roeping is. Tersiêr opleiding was egter duur en nie binne my ouers se finansiële vermoë nie. Dis toe dat ek van ROF te hore gekom het, aansoek gedoen het en die leningsbeurs ontvang het. ROF het my vanaf my eerste jaar ondersteun en sodoende kon ek in 2016 my B.Ed cum laude slaag.

Ek werk die afgelope ses jaar by Hoërskool Namakwaland, my Alma Mater. Ek is die vakhoof van die Engelse Departement en ook die Graadhoof van graad 12. My passie/forte bly egter musiek. Ek het altyd geweet dat, as daar een ding is wat mense in hierdie land gaan verenig, is dit deur musiek! Daarom het ek vanaf my eerste maand by die skool betrokke geraak by die koor. My koor het oor die jare plaaslike en nasionale gehore op hulle voete gehad. Ons het vanaf 2017 aan verskeie Eisteddfods deelgeneem en puik presteer. In 2019 is ons vir die tweede keer uitgenooi na die ATKV-Applous waar ons koor weggestap het met ‘n gemiddeld van 85%. In 2020 het my koor die voorreg gehad om by die Taalmonument Koorfees saam met ‘n geselskap van die Cape Town Opera op te tree. Hierdie geleentheid het ‘n nuwe wêreld vir die leerders kom vestig. Ons het ook ‘n uitreik saam met JG Meiring Skool begin waar ons kore saamgewerk het en by verskeie geleenthede saam opgetree het.

Ek is tans besig met my B.Ed Honneurs en ek sien uit daarna om meer te leer, myself te verryk en so maksimaal by te dra tot die opvoedingsituasie.

Nadia Van Staden

Vandat ek as klein dogtertjie juffrou-juffrou met my jonger sussie gespeel het op die swartbord wat ek vir Kersfees gekry het, wou ek ’n onderwyser word. Na ek (met reuse hulp van die Rapport Onderwysfonds) as onderwyser gekwalifiseer het, het ek twee jaar op Jacobsdal skool gegee voordat ek ’n pos by die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein gekry het. Ek gee tans Wiskunde vir die gr.8s en Wiskunde Geletterdheid vir gr. 10 en 11 en glo dat ’n goeie wiskunde-onderwyser se taak is om kinders te laat glo dat hulle wiskunde kan doen as hulle net in hulself glo.