WIE IS ONS?


Die Rapport Onderwysfonds (ROF) is ’n nie-winsgewende organisasie wat tersiêre onderwysstudente finansieel bystaan met leningsbeurse. Die fonds bestaan al sedert November 2003 en het oor die jare reeds honderde studente gehelp om hul droom om ’n onderwyser te word, te bewaarheid. Daar word jaarliks meer as 750 aansoeke ontvang, met ongeveer 500 wat vir ‘n toekenning kwalifiseer. Die enigste beperking is die beskikbaarheid van befondsing.

ROF is by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling geregistreer as nie-winsgewende organisasie en doen jaarliks in terme van die wet verslag. Omdat die fonds lenings aan studente toestaan is dit ook by die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) geregistreer en doen jaarliks verslag om aan te toon dat die toestaan van lenings aan die wetlike vereistes voldoen.

HOE WERK ONS LENINGSBEURSE?


Studente kry ’n sogenaamde “leningsbeurs” van ROF. Dit beteken dat ons geld aan studente voorskiet teen ’n gunstige rentekoers wat hulle na afloop van hul studies moet terugbetaal – geld wat ons gebruik om nóg meer studente te help. ’n Deel van die lening word egter in ’n beurs omskep vir studente wat hulle kursusse goed slaag. ROF beloon dus harde werk en uitstekende prestasies.

WIE KAN AANSOEK DOEN?


Icon-A

VOLTYDSE STUDENTE

Die fonds ondersteun voltydse onderwysstudente landswyd wat ingeskryf is (of van voorneme is om in te skryf) vir ’n onderwyskwalifikasie aan enige geregistreede tersiêre onderwysinstelling. Voorkeur word gegee aan studente wat bereid is om in Afrikaans onderrig te gee, maar ander tale word nie uitgesluit nie.
Icon-A

Deeltydse studente

Die fonds bied ook leningsbeurse aan deeltydse- of hulponderwysers wat reeds in die beroep staan en verder wil studeer of hul volwaardige onderwyskwalifikasie wil verwerf.