Wie mag aansoek doen?
ROF ondersteun voltydse onderwysstudente wat hul onderwyskwalifikasie doen by enige geregistreerde tersiêre onderwysinstelling – beide privaat- en staatsinstellings. Voorkeur word gegee aan Afrikaanssprekende studente, maar ons akkommodeer ook studente wat in ander tale wil studeer.
Hulp word verleen aan studente wat van voorneme is om die volgende kwalifikasies te behaal: • B.Ed (grondslag/intermediêre/senior/VOO fases) • B.Ed Honneurs • M.Ed • NGOS (PGCE)
Deeltydse OnderwysstudenteROF bied leningsbeurse aan hulponderwysers wat as klaskamerassistente, hulponderwysers of sportafrigters werk, maar wat nog nie oor ’n formele onderwyskwalifikasie beskik nie en hulself graag verder wil bekwaam. Sulke studente moet ingeskryf wees vir ’n onderwyskwalifikasie by enige universiteit in die land wat afstandsonderrig aanbied.
Werkende OnderwysersROF help graag gekwalifiseerde onderwysers wat deeltyds wil studeer om hul kwalifikasies te verbeter.
Wat is 'n leningsbeurs?
’n Leningsbeurs is ‘n rentedraende lening waarvan ‘n gedeelte in ‘n beurs omskep kan word op grond van akademiese prestasie. In Desember, aan die einde van elke studiejaar, stuur jy jou finale uitslae na ROF. Op grond van jou gemiddelde punt word ’n deel van jou lening volgens ’n glyskaal omgeskakel na ’n beurs.
Gemiddelde % behaal | 55 – 59% | 60 – 64% | 65 – 69% | 70 – 74% | 75+% |
% van lening wat omgeskakel word in ‘n beurs | 30% | 35% | 40% | 45% | 50% |
Nadat die leningsbeurs aan jou toegeken word, word die geld direk aan die universiteit oorbetaal. Jou universiteit of opvoedkundige instelling allokeer dan die geld na jou studenterekening en dit word vir jou klasgelde aangewend. Rente word op die lening gehef van die eerste dag wat die oorbetaling na die Universiteit gemaak is. Tydens jou studiejare word rente gehef teen Absa se prima-uitleenrentekoers minus 2% (bv. as die Absa prima uitleenkoers 8% is, beloop die rente op jou beurs 6% per jaar). Die rente word outomaties op- of afwaarts aangepas sou rentekoerse styg of daal. Nadat jy afgestudeer het, is jou lening (minus enige deel wat in ’n beurs omskep is, soos hierbo verduidelik) terugbetaalbaar teen Absa se prima-uitleenrentekoers. Die leningsgedeelte is terugbetaalbaar oor die aantal jare waarin jy gehelp is. As jy ’n leningsbeurs vir vier jaar ontvang het, moet jy die leningsbedrag binne vier jaar afbetaal.
Wat gebeur as ek ’n ander beurs kry?Studente doen dikwels vir meer as een beurs aansoek: Sou jy ‘n NSFAS- of Funza Lsuhaka-beurs ontvang, moet jou ROF-leningsbeurs onmiddellik gekanselleer word. Dit is jou verantwoordelikheid om ROF dadelik in kennis te stel. ROF sal die fondse wat reeds oorbetaal is, terugvorder vanaf die universiteit. Sou jy ander beurse ontvang, moet jy ook vir ons in kennis stel sodat ons die omvang daarvan met jou kan bespreek. Onthou, ROF-gelde mag NOOIT aan jou direk uitbetaal word vanaf die universiteit sou daar ‘n krediet in jou rekening ontstaan nie.
Waarom gee julle leningsbeurse en nie volle beurse nie?ROF beloon harde werk! Hoe harder jy werk en hoe beter jou punte is, hoe minder hoef jy terug te betaal. En hoe vinniger jy jou studies voltooi, hoe vinniger kan jy begin om jou eie salaris te verdien en vir jouself te sorg. Verder help jou terugbetaling ROF om weer leningsbeurse aan ander studente aan te bied en hulle dus dieselfde geleentheid te gee wat jy gehad het om jou studies te voltooi en jou droom te verwesenlik. By ROF noem ons dit die kultuur van omgee vir ander – ’n ware voorbeeld van “ubuntu”. Die leningsbedrag wat jy moet terugbetaal mag dalk nou vir jou baie lyk, maar die oorgrote meerderheid van ons studente kry uiteindelik afslag op hul lenings deur goeie punte te behaal. Ons vind dat die gemiddelde student oor die jare ongeveer 60% van die aanvanklike leningsbedrag moet terugbetaal – die ander 40% word gewoonlik omgeskakel na ’n beurs.
Wat gebeur as ek nie my studies voltooi nie?As jy jou studies staak moet jy onmiddellik begin om die lening terug te betaal. Rente word gehef teen Absa se prima-uitleenrentekoers en jy moet die lening terugbetaal oor dieselfde tydperk wat jy daarvan gebruik gemaak het.
Wat behoort ek nog te weet?
Studente moet ten minste ‘n jaarlikse gemiddeld van 50% handhaaf om vir die leningsbeurs aansoek te doen.
Alle aansoeke moet elektronies ingedien word. Jy kan die aansoekvorm op jou rekenaar of selfoon voltooi.
Jy moet elke jaar weer tussen Julie en einde September aansoek doen vir die volgende jaar. Die feit dat jy voorheen ’n leningsbeurs ontvang het, is geen waarborg dat jy weer ‘n leningsbeurs gaan ontvang nie. ’n Goeie studierekord sal in jou guns tel tydens jou volgende aansoek.
Leningsbeurshouers wat twee of meer vakke gedruip het, word outomaties gediskwalifiseer vir ’n lening of beurs in die volgende jaar van studie. Hulle kan egter weer in die daaropvolgende jaar aansoek doen, met dien verstande dat hul prestasie verbeter het. Sou ‘n student aan die einde van die eerste semester meer as twee vakke druip, behou ROF hom die reg voor om nie die tweede uitbetaling van die leningsbeurs te maak nie of die tweede uitbetaling terug te trek van die universiteit. Die leningsbeurs mag dan onmiddellik opeisbaar en betaalbaar word.
Voltydse studente moet hulle B.Ed-graad binne die vereiste termyn van 4 jaar (maksimum 5 jaar met inagneming van die oorbruggingsjaar) voltooi. B.Ed Honneurs (voltyds) moet binne 1 jaar voltooi word en deeltyds binne 2 jaar.
STUDENTE MOET VAN VOORNEME WEES OM TEN MINSTE VIR TWEE JAAR Ná VOLTOOIING VAN DIE KWALIFIKASIE TERUG TE PLOEG IN DIE ONDERWYS IN SUID-AFRIKA. (Indien jy dus van plan is om ná verkryging van jou kwalifikasie oorsee te gaan, moet jy asseblief nie aansoek doen nie. ROF ontvang skenkings van donateurs wat ‘n verskil wil maak in die onderwys in SUID-AFRIKA)
ROF ondersteun onderwysstudente wat deur Afrikaanse onderrig, die taal binne ons skole wil bevorder. Aansoekers moet dus Afrikaans kan lees/skryf/praat of verstaan.
Die land se onderwysbehoeftes word in aanmerking geneem en aansoekers se vakkeuses kan in oorweging geneem word by die toekenning van leningsbeurse.
Alle aansoeke word op meriete – sonder inagneming van ras, klas of geslag – beoordeel, maar jou maatskaplike omstandighede kan in ag geneem word. Eienskappe soos uitnemende akademiese prestasies, leierskap, ‘n gedissiplineerde lewensbenadering en die wil om te presteer sal beslis in jou guns tel.
Aansoeke word oorweeg deur ’n beurskomitee wat bestaan uit ROF-bestuurslede en verteenwoordigers van onderwysfakulteite van regoor die land.
Studente is verplig om ROF in kennis te stel van enige kontak- (selfoon/epos-adres) of adresveranderinge.
Studente is verplig om ROF twee keer per jaar – in Julie en Desember – in kennis te stel van hul vordering en uitslae. Indien die student nie binne die sperdatum terugvoering gee nie, behou ROF hom die reg voor om die leningsbeurs te kanselleer. Die aansoeker/goedgekeurde ROF-student gee ook magtiging dat ROF, namens die aansoeker/goedgekeurde ROF-student, sy/haar akademiese uitslae en studente-inligting by die tersiêre instelling mag aanvra en op versoek aan sy/haar donateur beskikbaar stel.
Die student gee toestemming dat ROF, tot voordeel van die student se finansiële ondersteuning, enige inligting by universiteite mag aanvra en ook enige inligting wat die student met ROF deel met die universiteite en potensiële donateurs mag bespreek, vir die tydperk totdat die student al sy verpligtinge teenoor ROF nagekom het. Dit sluit in: Enige inligting ten opsigte van die student se studies / finansies / omstandighede, en wat mag blyk uit die student se motiveringskrywe / terugvoering wat hul tweejaarliks aan ROF voorsien.
Foto’s, motiveringskrywes en terugvoeringskrywes ontvang van die student mag gebruik word op ROF se webblad of sosiale platforms en bemarkingsmateriaal. Hiervoor sal die aansoeker sy/haar toestemming moet gee aldan nie, wanneer ‘n kontrak met ROF gesluit word.
Tydens jou studies word rente gehef teen Absa se prima rentekoers minus 2%. Rente word aangepas soos wat die rentekoers verander. Nadat jy afstudeer, is die leningsbeurs eenmalig, of per maandelikse debietorder terugbetaalbaar teen die Absa se prima uitleenkoers. Die leningsbeurs is terugbetaalbaar binne die aantal jare waarmee ‘n student gehelp is, met ander woorde as jy vir vier jaar ‘n leningsbeurs ontvang het, is die lening binne vier jaar betaalbaar.
Alhoewel ROF geen spesifieke afsnypunt t.o.v inkomste het nie, word daar voorkeur gegee aan studente wat ‘n gemiddelde inkomste verdien. Aangesien ROF leningsbeurse nie alle koste dek nie, moet die student bewys kan lewer van ‘n volhoubare inkomste. Sou ‘n student onder R350,000 per jaar verdien wil ons sterk aanbeveel dat hul liewer by NSFAS aansoek doen.
Daar sal van ’n suksesvolle aansoeker verwag word om ’n kontrak met ROF te teken waarin die voorwaardes van die leningsbeurs uiteengesit word.
Die besluit van die beurskomitee oor toekennings is finaal en geen korrespondensie sal hieroor gevoer word nie.
Hoe doen ek aansoek?
Die enigste manier om aansoek te doen is deur ons aanlyn-aansoekstelsel. Jy kan die aansoekvorm op jou rekenaar of selfoon invul. Hierdie dokument sal jou help om jou aansoek korrek en akkuraat in te vul. ’n Aansoek met al die nodige inligting en brondokumente sal jou kanse op sukses dramaties verbeter. Lees dus die onderstaande riglyne deeglik deur voordat jy begin.
Skep 'n profiel
Jy moet eers met jou EIE PERSOONLIKE E-POSADRES registreer waarna ’n eenmalige wagwoord (OTP) na jou EIE selfoon gestuur word. Moet asseblief nie jou ouers se epos of selnommer hier gebruik nie! Maak dus seker dat jy jou selfoon byderhand het voordat jy begin. ’n Skakel sal ook na die e-posadres gestuur word wat jy gebruik om seker te maak dat daardie adres korrek en aktief is. Klik op die skakel om jou e-pos te verifieer.
As jy reeds in die verlede geregistreer en aansoek gedoen het, moenie ’n nuwe profiel skep nie. Gebruik jou ou wagwoord om in te teken. As jy jou wagwoord vergeet het, volg die skakel vir ’n nuwe een.
Die stelsel en vrae is baie intuïtief en maklik om te verstaan. Dit sal aandui indien enige inligting ontbreek óf onvolledig is voordat jy na ’n volgende blad kan gaan.
Op jou merke, gereed...
Die eerste deel van die aansoek vra vir persoonlike inligting van jou, jou ouers en sorggewers. Jy kan terugblaai en korreksies aanbring indien jy ’n fout gemaak het. Indien jy nie oor al die inligting beskik nie en later verder wil werk aan jou aansoek, kan jy net afmeld en later terugkeer. Die inligting wat jy reeds ingevul het sal nie verdwyn nie.
Stap 1: Persoonlike inligting Onthou jy doen aansoek onder jou eie naam, nie dié van jou ouers of voog nie. Jou “tuisdorp” en “provinsie” is die provinsie en dorp of stad waar jy vandaan kom – nie waar jy beplan om te studeer of reeds studeer nie. Jou woonplek tydens jou studies is slegs vir statistiekdoeleindes. As jy nog nie seker is waar jy gaan bly nie, kliek “onseker”.
Stap 2: Studie besonderhede Vul soveel moontlik besonderhede van jou studie of voorgenome studie in. Die “jaar waarin studie voltooi word” is die jaar finale van jou huidie kursus. As jy in 2000 in jou eerste jaar was van ’n driejaar-voorgraadse kursus is die jaar waarin jy jou studie voltooi dus 2002. Die feit dat jy ná jou aanvanklike voorgraadse kursus beplan om vir ’n verdere kursus (soos honneurs) in te skryf, is dus nie nou ter sake nie.
Stap 3: Skool besonderhede Hier verlang ons inligting van die skool waar jy gematrikuleer het en kontakdetails van jou skoolhoof.
Stap 4: Verhoudingsinligting Hier verlang ons basiese inligting van jou huwelikstatus en gesin. As jy ongetroud is en steeds afhanklik van jou ouers of voog is, verlang ons detail van jou ouers/voog en ander sibbe. As jy reeds getroud is of nie meer afhanklik van jou ouers is nie, verskaf inligting oor jou huidige gesin, met ander woorde jou gade en/of eie kinders. Die aantal lede van die gesin sluit al die mense wat permanent in jou huis bly ¬– dit wil sê jyself, jou ouers/voog, sibbe en enige ander familie. Die aantal studente in die gesin is almal wat besig is met voltydse studie na matriek en steeds afhanklik is van jou ouers/voog. ’n Volwasse broer wat reeds getroud is, sy eie werk het en besig is met deeltydse studie word dus nie getel nie. Aantal skoliere is die aantal kinders in die huis wat steeds skoolgaan. As jy steeds op skool is terwyl jy hierdie aansoek invul, is jy een van hulle.
Stap 5: Gesinsamestelling Klik op al die mense wat ’n bydrae tot jou lewenskoste maak, jou sakgeld betaal as jy reeds studeer of tot dusver vir jou skoolopleiding en/of studies betaal of help betaal het. Maak seker dat jy almal kies, al is hulle werkloos of al is hulle bydrae tot jou lewenskoste baie min of ongereeld. As jy heeltemal selfversorgend is of self gedeeltelik bydra tot jou lewenskoste, kies ‘self’.
Stap 6: Besonderhede van gesinslede Vul die persoonlike inligting in van die persone wat jy in Stap 5 gekies het.
Stap 7: Inkomste per gesin Hier moet jy inligting gee oor die finansiële posisie van die mense wat jy in stap 5 gekies het wat tot jou lewenskoste en/of studies bydra. Dis belangrik om akkurate inligting te verskaf. As jou ouers te min verdien om vir jou studies na skool te betaal, moet jy steeds invul wat hulle tans verdien. As hulle op pensioen is, verskaf inligting oor hul pensioeninkomste. As jou ouers geskei is en een of albei dra tot jou lewenskoste en/of studiegeld by, maak seker dat jy daardie ouer(s) se inligting verskaf. Gaan terug na Stap 5 as jy vergeet het om so ’n persoon by te voeg. As een of albei ouers geen inkomste verdien nie, dui hulle inkomste as nul aan. Die inkomste verwys na bruto maandelikse inkomste, dit wil sê inkomste voor enige belasting, pensioen of ander aftrekkings verhaal is.
Dokumente en papiere...
Die finale gedeelte van die aansoek behels die indiening van dokumente om jou aansoek te ondersteun. Ons het dit baie maklik gemaak. Jy kan hierdie dokumente as pdf’s of jpg’s aanheg. Dokumente wat jy met jou selfoon afgeneem het, is aanvaarbaar – mits die foto’s duidelik en leesbaar is. Die dokumente wat jy aanheg hoef nie gesertifiseerde afskrifte te wees nie, maar die keurkomitee kan van jou verwag om die oorspronklike of gesertifiseerde afskrifte van hierdie dokumente voor te lê.
Op die laaste blad moet jy en jou ouers/voog/gade teken. Teken sommer met jou rekenaarmuis, al lyk dit skeef en krom. Teken egter voluit. Blote parafering is nie genoeg nie.
Die doellyn wink...
As jy al die afdelings ingevul en alle dokumente opgelaai het en die aansoek geteken is, kan jy jou aansoek indien. Nadat jy dit ingedien het, kan jy nie weer teruggaan om foute of weglatings reg te stel nie. Indien jy daarna besef jy het ‘n fout gemaak, kontak vir Melani by die adres hieronder sodat sy jou aansoek kan “oopstel” sodat jy kan regmaak waar jy verbrou het. Sodra jy jou aansoek ingedien het sal jy per e-pos of SMS ingelig word dat jou aansoek suksesvol gestuur is. Sodra die ROF-kantoor die aansoek gekontroleer het, sal jy bevestiging ontvang dat jou aansoek ontvang en volledig is en dat die beurskomitee dit sal oorweeg.
Die Beurskomitee vergader teen die einde van Oktober en jy kan die uitslag teen die middel van Desember verwag.
As jy enige vrae oor die aansoekproses het of as jy probleme ondervind, kontak vir Elmari Bezuidenhoudt by 065 367-3903 of [email protected]
Ek soek 'n onderwyspos
ROF kan jou ongelukkig nie help om ’n onderwyspos te kry nie, maar ons het ’n paar idees waar jy kan gaan soek. Probeer van die skakels hieronder. En as jy weet van poste deel dit gerus met ander beurshouers via ons Facebook- blaaie. Onthou, by ROF gee ons om vir mekaar.
https://www.aros.ac.za/WebItem?listId=43
https://www.onniesonline.co.za/vakante-onderwysposte/