ALLUMNI STUDENTE

Lynette van Tonder
Lynette is deel van ‘n gesin van vier waarvan sy die oudste is en het ‘n jonger sussie. Sy matrikuleer in 2008 by Hoërskool Wonderboom en besluit om onderwys te studeer. “Ek wil ‘n positiewe bydrae lewer in die onderwys en wil leerders ontwikkel sodat hulle, deur te woeker met die talente wat hulle van God ontvang het, na die beste van hulle vermoë presteer.” In 2008 begin sy by die Universiteit van Pretoria (UP) te studeer en voltooi haar B.Ed-graad in 2012.
Sy kry ‘n pos as ‘n Graad 3-onderwyseres by Laerskool Bergsig en gedurende 2013 – 2019 voltooi sy haar B.ED Honneurs in Leerondersteuning asook haar B.ED Honneurs in Assessering en Kwaliteitsversekering in Onderwys en Opleiding (cum laude).
Sy is tans besig met haar M.Ed-graad in die departement Vroeë Kinderontwikkeling by UP, waar haar fokus is op leesassessering. Sy beplan om dit in 2021 te voltooi.
In 2020 word sy by Aros aangestel as ‘n dosent in die Grondslagfase departement. Lynette wil studente toerus met die nodige kennis en vaardighede, sodat hulle eendag as volwaardige onderwysers ‘n positiewe bydrae in skoolleerders se lewens sal maak.
Grondslagfase dosent, AROS Universiteit

Heinrich Moses
Heinrich het groot geword in Ceres en het in 2014 gematrikuleer by Hoërskool Charlie Hofmeyr, Ceres. Sy droom was om ‘n onderwyser te word wat wil terugploeg in sy eie gemeenskap, maar toe hy by CPUT in 2015 met sy B.Ed VOO-graad (met hoofvakke Wiskunde Geletterdheid en Ekonomie) begin, was dit onder uiters moeilike omstandighede.
“Ek kom uit finansiële uitdagende omstandighede. Ek het in my eerste jaar blyplek gekry by familie en vriende. ROF het vanaf my tweede jaar vir my finansieel begin ondersteun en dit het dinge vir my soveel makliker gemaak aangesien ek toe op my studies kon fokus,” gesels Heinrich.
Hy slaag sy graad in Desember 2018 en begin in 2019 sy onderwysloopbaan by Ceres Sekondêre Skool waar hy vandag Afrikaans gee vir die Graad 8, 10 en 11-leerlinge, en Wiskundige Geletterdheid vir die Graad 10’s en 11’s.
“Vandag is ek ‘n trotse hoërskoolonderwyser en ploeg terug in die gemeenskap waar ek grootgeraak het. Dit skep hoop vir soveel ander om te weet dat daar instansies is wat bereid is om te help,” sê Heinrich. Hy is tans besig om sy B.Ed Honneurs deeltyds te studeer.
Afrikaans- en Wiskunde Geletterdheid onderwyser, Ceres Sekondêre Skool

Nico Grobler
Nico het in Pretoria groot geword waar hy in 2008 by Hoërskool Waterkloof gematrikuleer het. Ná skool begin hy by die Universiteit van Pretoria (UP) ingenieurswese te studeer.
Tydens hierdie studiejare besef hy dat dit nie die rigting is waarin hy wil wees nie en ná voltooiing van sy graad, besluit hy om tydelik op ‘n plaas te werk, waar hy betrokke was by kinderontwikkeling in die vorm van veldskoolkampe en sportklinieke. Daar besluit hy om eerder sy onderwysgraad in Tegniese Onderwys by NWU Potchefstroom te doen.
Vanaf Nico se tweedejaar B.Ed, begin ROF hom ondersteun en in 2015 slaag hy sy onderwysgraad met ‘n gemiddeld van 86%. Hy begin sy onderwysloopbaan by HTS Drostdy in Worcester, en na drie jaar aanvaar hy ‘n pos by Hoërskool Hermanus, waar hy die afgelope twee jaar skoolgee. Hy onderrig Wiskunde en Tegnologie vir die Graad 8’s en Wiskunde Geletterdheid vir die Graad 10-leerlinge.
“Om met kinders te werk en hulle te help om tot hul volle potensiaal te ontwikkel is een van die grootste gawes van God,” sê Nico.
Wiskunde- en Tegnologie onderwyser, Hoërskool Hermanus

Nicole Topkin
Nicole het groot geword in Koffiefontein in die Vrystaat. Haar ma is al vir jare ‘n onderwyseres en dit het ‘n groot invloed op haar lewe gehad. Sy matrikuleer in 2011 by Hoërskool Koffiefontein en begin haar B.Ed-graad die volgende jaar by NWU Potchefstroom. Sy slaag elke jaar met ‘n hele paar onderskeidings en slaag dus ook haar 4de jaar met vyf onderskeidings. Daarna voltooi sy haar B.Ed Honneurs in Afrikaans en in 2016 begin sy haar onderwysloopbaan in die Noord-Kaap, waar sy vir twee jaar Afrikaans as vak aanbied. Twee jaar gelede verhuis sy na Petrusburg en is ‘n trotse hoërskoolonderwyseres by AJC Jooste Gekombineerde Skool. Sy gee Besigheidstudies vir die Graad 10-12 leerders en EBW vir die Graad 7-9’s.
“Hierdie skool staar daagliks verskeie uitdagings in die oë: armoede in die gemeenskap, onvoldoende hulpbronne, beperkte finansies en ongemotiveerde leerders. Daarenteen, soos hulle sê, gebeur alles vir ‘n rede en ek glo dat ek vir ‘n rede hier geplaas is, juis sodat my storie die leerders kan motiveer.”
Nicole is tans geregistreer by die Universiteit van die Vrystaat om haar M.Ed te doen. “Dit is altyd lekker om te reflekteer oor die verlede, want dit gee soveel perspektief en natuurlik ook dankbaarheid vir die hier en nou.”
Graad 7 tot 12 onderwyseres, AJC Jooste Gekombineerde skool

Loandri du Preez
Loandri het groot geword in Bellville en is deel van ‘n gesin van vier. Haar ouer sussie is drie jaar ouer as sy en ook ‘n onderwyseres in Bloemfontein. Aanlegtoetse in matriek het bevestig dat sy ‘n gebore onderwyseres is.
In 2014 begin sy haar B.Ed Intermediêre en Senior Fase-studies by CPUT en ontvang finansiële ondersteuning van ROF vanaf haar derde jaar. Ná voltooiing van haar graad begin sy haar onderwysloopbaan by Laerskool Robertson, waar sy die afgelope drie jaar skoolgee. Sy gee klas vir die Graad 5’s, en rig netbal en meisieskrieket af. Verder is sy ook in beheer van die skoolkoerant.
“Ek wil vir die jaar wat ‘n leerder by my in die klas is, hom/haar laat voel dat, in ‘n gejaagde wêreld vol besige skedules, hulle opinie tog tel. Ek wil hulle leer hoe om in ‘n samelewing op te tree deur saam te werk, maar ook jou eie stempel af te druk. In ‘n klaskamer gebeur daar soveel meer as net leer. Dit is ‘n voorreg om deel van die klein groei-oomblikke te wees. ‘n Kind verbaas jou op ‘n daaglikse basis, hulle hou jou op jou tone, maar hulle herinner jou ook aan die eenvoud van dinge. Ek hoop om oor 10 jaar te kan terugkyk en te kan sê ek het elke dag my beste vir elke leerder gegee.”
Graad 5 onderwyseres, Laerskool Robertson
'N SKENKING AAN ROF
- 100% van u skenking word aangewend vir 'n ROF-leningsbeurs.
- 'n Art 18A-kwitansie word uitgereik na ontvangs van u skenking.
- Skenkings groter as R25 000 : 'n Student word an u geallokeer en daar word drie keer per jaar terugvoering gegee insake die vordering van u student.
- Skenkings RO - R25 000 : Hierdie skenkings word saamgevoeg om 'n leningsbeurs van R25 000 te skep.