Wat is 'n lening?
’n Leningsbeurs is ‘n rentedraende lening waarvan ‘n gedeelte in ‘n beurs omskep kan word op grond van akademiese prestasie. In Desember, aan die einde van elke studiejaar, stuur jy jou finale uitslae na ROF. Op grond van jou gemiddelde punt word ’n deel van jou lening volgens ’n glyskaal omgeskakel na ’n beurs.
Gemiddelde % behaal | 55 – 59% | 60 – 64% | 65 – 69% | 70 – 74% | 75+% |
% van lening wat omgeskakel word in ‘n beurs | 30% | 35% | 40% | 45% | 50% |
Waarvoor kan ek my leningsbeurs gebruik?
Nadat die leningsbeurs aan jou toegeken word, word die geld direk aan die universiteit oorbetaal. Jou universiteit of opvoedkundige instelling allokeer dan die geld na jou studenterekening en dit word vir jou klasgelde aangewend. Rente word op die lening gehef van die eerste dag wat die oorbetaling na die Universiteit gemaak is. Tydens jou studiejare word rente gehef teen Absa se prima-uitleenrentekoers minus 2% (bv. as die Absa prima uitleenkoers 8% is, beloop die rente op jou beurs 6% per jaar). Die rente word outomaties op- of afwaarts aangepas sou rentekoerse styg of daal. Nadat jy afgestudeer het, is jou lening (minus enige deel wat in ’n beurs omskep is, soos hierbo verduidelik) terugbetaalbaar teen Absa se prima-uitleenrentekoers. Die leningsgedeelte is terugbetaalbaar oor die aantal jare waarin jy gehelp is. As jy ’n leningsbeurs vir vier jaar ontvang het, moet jy die leningsbedrag binne vier jaar afbetaal.
Wat gebeur as ek ’n ander beurs kry?
Studente doen dikwels vir meer as een beurs aansoek: Sou jy ‘n NSFAS- of Funza Lsuhaka-beurs ontvang, moet jou ROF-leningsbeurs onmiddellik gekanselleer word. Dit is jou verantwoordelikheid om ROF dadelik in kennis te stel. ROF sal die fondse wat reeds oorbetaal is, terugvorder vanaf die universiteit. Sou jy ander beurse ontvang, moet jy ook vir ons in kennis stel sodat ons die omvang daarvan met jou kan bespreek. Onthou, ROF-gelde mag NOOIT aan jou direk uitbetaal word vanaf die universiteit sou daar ‘n krediet in jou rekening ontstaan nie.
Waarom gee julle leningsbeurse en nie volle beurse nie?
ROF beloon harde werk! Hoe harder jy werk en hoe beter jou punte is, hoe minder hoef jy terug te betaal. En hoe vinniger jy jou studies voltooi, hoe vinniger kan jy begin om jou eie salaris te verdien en vir jouself te sorg. Verder help jou terugbetaling ROF om weer leningsbeurse aan ander studente aan te bied en hulle dus dieselfde geleentheid te gee wat jy gehad het om jou studies te voltooi en jou droom te verwesenlik. By ROF noem ons dit die kultuur van omgee vir ander – ’n ware voorbeeld van “ubuntu”. Die leningsbedrag wat jy moet terugbetaal mag dalk nou vir jou baie lyk, maar die oorgrote meerderheid van ons studente kry uiteindelik afslag op hul lenings deur goeie punte te behaal. Ons vind dat die gemiddelde student oor die jare ongeveer 60% van die aanvanklike leningsbedrag moet terugbetaal – die ander 40% word gewoonlik omgeskakel na ’n beurs.
Wat gebeur as ek nie my studies voltooi nie?
As jy jou studies staak moet jy onmiddellik begin om die lening terug te betaal. Rente word gehef teen Absa se prima-uitleenrentekoers en jy moet die lening terugbetaal oor dieselfde tydperk wat jy daarvan gebruik gemaak het.